Ons opregte waardering
Ds Hendrik du Plessis

‘n Mens kan nie glo dat 2021 sy rug op ons gekeer het nie. Ons gaan ‘n kerstyd en ‘n nuwejaar binne, steeds so anders as waaraan ons gewoond was. Daar is so baie dinge wat ons wou doen die afgelope jaar, maar weens die inperking was dit nie moontlik nie. Afgesien van die feit dat alles na die eindtyd wys, was daar ‘n doel met alles. Een van die belangrikste dinge wat ons hierdie jaar geleer het was die kortstondigheid en onvoorspelbaarheid van hierdie lewe. ‘n Jaar gelede sou ons nie in ons wildste drome kon raai dat ons hierdie jaar twee van ons kerkraadslede sou groet nie. Dit het beslis tot ons gemeente gespreek.
Aan al die kerke wat ons ondersteun wil ons net sê, sonder u sou alles te vergeefs gewees het. U gebede en u volgehoue ondersteuning het ons deur hierdie tyd gedra.
Die gemeente onthou nog die kruideniersware wat deur u bydraes vir die gemeente gekoop kon word – een het tereg opgemerk: “Midde en ondanks hierdie pandemie het die Here ons nog nie vergeet nie.” U het ons arms soos Moses van ouds hoog gehou. Wanneer ons moedeloos was het hier Bybels opgedaag. Ons kon bande opbou met baie mense deur die klankbybeltjies. Mense keer ons orals voor om te hoor of daar nog van die klankbybeltjies beskikbaar is.
Met hierdie pandemie is daar ‘n ongekende belangstelling in die Woord van die Here. Jy gee aan iemand ‘n Bybel met die opdrag om ‘n sekere gedeelte soos die Evangelie van Johannes te gaan lees. Nie lank daarna nie kom hy terug en mens is verbaas hoeveel hy daarvan kan onthou. Een kind kon ‘n hele hoofstuk uit haar kop opsê omdat sy al soveel keer daarna geluister het, en kan nou die gedeelte soos ‘n gedig voordra. Dit sou nie moontlik gewees het sonder u ondersteuning nie. Hierdie jaar wat kom het ons deur u milde bydrae genoeg Sondagskoolmateriaal vir die kinders. Ons kan aangaan. Ons kan die Naam van ons Here Jesus groot maak. Met die verkondiging van die Evangelie bombardeer ons die linies van die duiwel, en waar sy Woord verkondig word, keer dit nooit onverrigtersake terug nie.
Ons bede is dat die Here vir ons deur hierdie pandemie wat tot ons almal gespreek het die harde grond van ons harte sal omdolwe vir die saad van sy Woord. Aan u wat ons in hierdie moeilike tyd gedra het is die woorde van die apostel Paulus so gepas. In 2 Korintiërs 9 vanaf vers 13 sê hy aan die gemeentes wat bygedra het: “Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. 14Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was. 15Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.”
Ons as gesin is diep dankbaar teenoor die Here vir sy genade, goedheid en guns.
U broeder in Christus,
Hendrik du Plessis.