Ds Hendrik du Plessis
Die herstel van die erf en gebou
‘n Tyd gelede het ek met ds. Len van Onselen geskakel oor die bediening in Bere. Ds. van Onselen is ‘n geëmeriteerde predikant wat hom in Maun kom vestig het. Hy was al die jare betrokke by “Word to Africa” hier in Botswana. Hy wou al jare terug betrokke raak by Bere, maar het nooit sover gekom nie. In ons gesprekke het ons die moontlikheid bespreek hoe ons saam betrokke kan raak in Bere, siende dat Bere soos by baie ander nedersettings verswelg is in alkoholisme. Oor een ding het ons saamgestem, as jy baie vinnige resultate soek, moet jy nie Bere toe gaan nie. Hy het aan my genoem dat hy ‘n swart helper, ‘n evangelis het wat van tyd tot tyd Bere toe kan gaan. Ek het aan hom genoem dat ons ‘n probleem daar het met behuising en dat die gebou daar verval het. Ds. van Onselen het toe met ‘n uitreikspan van Suid-Afrika kon reël om die gebou te kom herstel. Tans is die gebou weer bewoonbaar. In die plek van die bad wat altyd daar was, is ‘n stort ingesit. Die gebou is ook omhein. Die stoepie of afdak kan nou weer gebruik word om dienste te hou. Trouens ons het die Sondag daar ‘n diens kon hou. Al probleem wat ons tans daar het is die wateraansluiting.
Sondagskool
Ons het tans iemand daar wat die kindertjies bedien. Elke Sondag het sy ‘n groepie kinders vir wie sy onderrig gee (Sondagskool). Met ons volgende uitreik wil ek leermateriaal aan haar verskaf wat sy kan gebruik.
Huisbesoeke

Huisbesoeke is een van die steunpilare van ons bediening daar. ‘n Mens kan preek en ‘n mens kan traktaatjies uitdeel, maar as ‘n mens nie met ‘n persoon op grondvlak gesels nie, kan jy nie werklik die liefde van Christus uitstraal nie. Vriendskap is een van die belangrikste invalshoeke. As jy daar kom, word jy as vriend verwelkom. Jy drink saam met hulle tee en jy eet saam met hulle en via ‘n vriend maak jy vriende met ander en dit kring uit. Dikwels vra hulle vir my om vir hulle hout te gaan haal. Die namiddag ry ons dan almal saam en kom terug met ‘n vrag hout. Klein dingetjies waardeer hulle en jy smee bande. Wanneer hulle jou begin vertrou met hulle persoonlike probleme, besef jy jy het ‘n invalshoek. Die mense begin jou vertrou. Die groot geheim in die sending is om mense voortdurend te voer met inligting uit die Bybel. Daar is nog soveel onderliggende bygelowe, en elke bygeloof het die vrees wat daarmee gepaard gaan, as ek dit of dat nie doen nie gaan sekere onheile my tref. Dan is daar ook die onderliggende vrees vir toordery en tradisionele dokters by wie hulle dan gaan aanklop om hulp.
‘n Christen kan nie getoor word nie
Tydens een van ons Bybelsstudies is toordery en onder andere die okkultiese magte wat daarmee gepaard gaan bespreek, en spesifiek die vrae of dit bestaan en kan ‘n Christen getoor word.
My antwoord was in kort die volgende:
Natuurlik bestaan dit. Die duiwel en sy kragte is soos ‘n kwaai hond aan ‘n ketting. As jy binne sy reikwydte beweeg, soek jy vir moeilikheid. As jy na ‘n toordokter toe gaan of nuuskierig ondersoek instel of belangstelling toon in die okkulte soek jy vir moeilikheid. Jy gee jouself oor aan ‘n mag wat jou lewe gaan beheer. Jy beweeg binne die reikwydte van die duiwel. Natuurlik gaan die hond jou byt.
‘n Ander voorbeeld wat hulle goed verstaan is die konsep van ‘n skaapkraal. In hierdie wêreld is daar twee krale, die Here Jesus se kraal en die duiwel se kraal. Jy is veilig as jy in die Here Jesus se kraal is, maar as jy deur die draad kruip en hulp gaan soek in die duiwel se kraal moet jy nie dink jy gaan maklik weer terugkruip nie. Dit sal die duiwel nie toelaat nie. Daarteenoor beloof die Here Jesus vir die wat in sy kraal is (Johannes 10:28 en 29) dat niemand sy skape uit sy hand of die hand van sy Vader kan ruk nie en hulle nooit verlore sal kan gaan tot in ewigheid nie. Dit is die troos vir elkeen wat aan die Here Jesus behoort en in sy kraal is. Niemand kan my toor nie. Ek behoort aan die Here Jesus Christus. Niemand kan die duiwel se magspel op my plaas nie, want die Here Jesus is my Herder.
Orals in Suid-Afrika waar ek gekom het, en ook hier in Botswana is daar ‘n geloof onder die swartes en ook onder die Boesmans dat ‘n blanke nie getoor kan word nie. My antwoord aan hulle was, enige mens kan onder die magspel van die duiwel kom as hy hom binne sy reikwydte begewe. Die enigste rede waarom blankes in die verlede nie getoor kon word nie, was omdat hulle van nature nie ‘n sangoma of ‘n duiwelaanbidder genader het om hulp nie, maar enige blanke wat hom in die duiwel se sfeer begewe laat toe dat die donker magte hom beheer en sy lewe oorneem. Hier was ‘n blanke boer in ons omgewing, ‘n vriend van my wat ‘n sangoma hier in D’kar kom raadpleeg het oor sy bokke wat hulle gesteel het. Daarna het hy gesukkel om te slaap omdat stemme in die nag met hom praat en hom wakker hou. Dan het ek ook ‘n vriend in Suid-Afrika gehad, ‘n swart dominee van die NG kerk, ds. Makamu. Op ‘n keer het hy my vertel van sy grootwordjare: “Ek het tussen sangomas grootgeword. Ons gesin en familie was sangomas. Op ‘n keer het my neef van Vendaland af gekom en my vertel van Iemand wat bereid was om sy lewe te gee vir ander. Ek was nog maar ‘n kind en het baie daaroor nagedink. Later het ‘n blanke NG dominee in ons omgewing kom intrek en hy het ons vertel van Jesus wat sy lewe vir sondaars gegee het, en ek het dadelik besef dit is die Een wat my neef van gepraat het. Dit het my so aangegryp dat ek later in die NG kerk belydenis van geloof afgelê het. Daarna wou ek met alle mag predikant word. Toe my familie daarvan te hore kom, het hulle volstrek geweier. Toe hulle sien dat hulle niks vermag nie, het hulle besluit om ‘n toordokter te sien, die grootste sangoma in die suidelike halfrond, in Mosambiek, om my te toor. By die toordokter gekom het hy oudergewoonte sy dolosse uitgehaal en voor hulle uitgegooi. Daarna het hy so ‘n snorkgeluid gemaak en hulle duidelik laat verstaan dat hy niks met die hierdie besigheid te doen wil hê nie. ‘Hierdie man wat julle wil hê ek moet toor, is ‘n Christen en die Here is met hom. Los hom uit.’ Diep teleurgesteld moes hulle maar terugkeer Suid-Afrika toe.” Toe ek ds. Makamu (‘n Shangaan) ontmoet het, was hy al vir jare lank predikant in die NG kerk.
Die vraag het ook tydens ons Bybelstudie navore gekom: “Wat staan ons nou te doen? As jy ‘n sangoma gaan besoek het, en jy besef dat jy nou onder die mag van die duiwel is, wat staan jou te doen?” Die Bybel leer ons dat jy jou sondes voor die Here moet bely. In 1 Johannes 1:9 staan daar dat die Here getrou en regverdig is om jou sondes te vergewe as jy dit voor Hom bely. Jy moet erken en bely dat jy gesondig het. Jy het ‘n sangoma gaan sien en jy moes dit nooit gedoen het nie. Jy het by die duiwel gaan aanklop om hulp en nou sit jy met die nagevolge. Jy moet diep berou toon oor dit wat jy gedoen het, en die Here belowe jou, Hy sal jou vergewe en Hy sal jou verlos van die mag van die duiwel. Doen jy dit nie, gaan jy vir die res van jou lewe onder daardie mag gebuk gaan om daarna vir ewig verlore te gaan.
Bybels, klankbybels en traktaatjies
Vir die wat kan lees deel ons Bybels uit. Saam met die Bybels deel ons ook traktaatjies uit om hulle te help in die bestudering van die Bybel. Al sou ‘n traktaatjie net bloot rondlê kan dit nogsteeds deur iemand opgetel word en sy doel dien. Die klankbybels deel ons uit aan mense wat nie kan lees nie, maar ‘n opregte behoefte het om die Woord van die Here te hoor. Voor ons dit uitdeel reël ons eers ‘n Bybelstudie. Daartydens word aan elkeen verduidelik, die implikasie van Johannes 14:23 en 24 waar die Here Jesus sê: “23As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.” My woorde dan aan hulle is: “Hier het ons nou ‘n gulde geleentheid om vir die Here Jesus te wys dat ons Hom liefhet en ons wil hê Hy en sy Vader moet by ons kom woon. Dit is ‘n eenvoudige liefdesgebaar, wanneer ek na sy Woord luister. Maar aan die anderkant is dit ongelukkig ook ‘n geleentheid om die Here Jesus weg te wys en vir Hom te sê dat jy Hom nie in jou erf soek nie. Jou houding teenoor sy Woord spreek boekdele. As jy Hom dan nie in jou erf wil hê nie, wie gaan sy intrek daar inneem? Dit is net een en dit is die duiwel, en jy dra die nagevolge. Die Woord van die Here kan dus vir jou of ‘n vloek of ‘n seën wees. Pas jy hierdie klankbybeltjie nie op nie, dra dit die boodskap uit dat jy nie in die Here se seën en sy teenwoordigheid in jou lewe belangstel nie en dat jy Hom nie liefhet nie. As die Here nie in jou lewe is nie, raak dit ook jou kinders.” Daar heers gewoonlik ‘n doodse stilte as jy hulle met Johannes 14 konfronteer.
Om af te sluit:
Al hoe meer en meer besef ‘n mens hoe okkultiese bedrywighede deur al die eeue heen hierdie Afrika-mense lamgelê het. Demokrasie het maar eers nou onlangs in Afrika sy verskyning gemaak. Al die eeue heen was dit sangomakrasie waar ‘n kaptein of hoofman met sy sangomas geregeer het. Wat die sangomas vir hom gesê het was wet. As die sangomas vir die hoofman sê jy is ‘n toornaar dan is die dood jou voorland, al is jy hoe onskuldig. Jy leef in konstante vrees. Dit is dan te verstane waarom Dingaan Piet Retief-hulle vermoor het met die woorde: “Bulalane abathakhathi.” (Maak dood die toornaars.” Dit was niemand anders as sy sangomas wat dit vir hom gesê het nie. Ook hier in D’kar word ons voortdurend gekonfronteer deur beskuldigings van so en so wat vir so en so getoor het. Ons het hier iemand in ons gemeente wat ‘n beroerte-aanval oorleef het wat vas oortuig is, iemand in ons gemeente het hom getoor. Ons vra u voorbidding vir hierdie mense, maar ons is ook baie dankbaar vir die menigte wat gered is en verlos is van hierdie magspel.
U broer in Christus, Hendrik du Plessis.